OU PAAIE

die laaste gisters

wat jy by My was

het Ek al meer

jou wegtrek van My af gelees

Ek moes kyk

hoe klatergoud jou waardes verby

om ver … en verder

van My af te wees

Ek het gekyk

hoe jy horison op môre

altyd môre

in die waan dat dit sigbaar is

net vir jou

anderlanddrome

wat in die – nóú donker – oggendbries flard;

beserk My nou pad uit jou kop uit steel …

die lyne op jou kaart raak al meer verward

met die breë rooi strepe waarmee illusie speel

met verworpe ou paaie

probeer jy steeds onbewus gate lap –

jou Rigting vergete

in jou omdraai, wegraak, wegstap

in dié cul de sac

wat die bloedsel van jou siel vertrap

tot niks nie

niks meer sal oorbly nie

en My seer

My liefde vir en My huil oor jou

bly verbete om jou spartel

probeer met windvingers

aan jou

om jou

ín jou vat

om vir jou na Ou Paaie

terug te vat ..

Advertisements

OORLOG

Helwit son laser

deur gryswit groewe

van vry wil

vergrou bolrond in jou oë

strak die kleur

van My heilige pyn

en stysel nóg ‘n kyk

teen taai kimlyne vas

jou lewe

kreupel en mat

die somer van toeka

wat ligvoet kon trap

krenk My volmaaktheid

laat adel vergaan

in jou dans

in die dans wat jy dans

dans die waansin

dans die waansin die dans

met jóú skoene aan

Sien my

Sien my…
Sien my in die vreugde van sonskyn op vroegoggendryp
Sien my in ‘n guitige bries wat speels aan ‘n duifvlerk gryp
Sien my in warmgoue, wuiwende wintergras
as jy langs paaie loop waar ons dikwels was
Sien my in die hart van ‘n dieprooi roos ontvou;
Wéét dat ek nog steeds net so lief is vir jou
Sien my in elke skuimende bergwaterval
Sien my op hoë en heilige plekke sonder tal
My Koning is hier! Almal wie Hy geroep het is saam
In Sy Heilige Hand is ‘n wit klippie met my naam
Sien….
Hom…

Hierdie is ‘n troosgediggie wat ek een tyd geskryf het vir iemand wat ‘n geliefde moes laat gaan. ‘n Tyd toe mý alles nog heel was. Toe ek nog alles geweet het, al die woorde gehad het…. die wysheid in pag…
En die ironie hiervan is dat hierdie woorde dieselfde strekking het, as dít wat Mamma self nou vir my sou sê. Maar geestelike oë kyk dikwels blind, die ore van die siel luister meermale nie… En die hart… Die hart wil sy eie smart lééf op sy eie tyd in sy eie donker see van wanhoop en gebreekte drome totdat die son self eendag deurbreek…
Die dag het vir my ‘n vreemdeling geword. Ek sien reikhalsend uit na die gewyde stilte van die nag, want dis dan wanneer die skuilhoeke van my siel oopskreef en herinneringe deurmekaar uitbondel en hulleself kom lêmaak bo-oor die seer van my verskeurde binneste. Dis dán wanneer ek jou sien… My baken, my rigtingwyser, my ligtoring…
Ek voel steeds die warmte van jou lyf teen myne… En ek hoor steeds jou stem… jou lag… Ek mis jou, Mamma. Ek verlang…. Ek is só lief vir jou…
Hoe las ek weer die flenterlegkaart wat my hart was aanmekaar? Ek wat eens al die antwoorde gehad het, staan stom soos ‘n onbegrypende kind voor my eie, uitmekaargerukte hart en my eie selfsugtige pyn…
Vroeër jare het ek soms gewonder of ek jou nie té lief het nie… Vir jou wat ons huis was. Wat alles feil gehad het vir jou kinders. Nooit te moeg was nà ‘n dag se harde werk nie… Altyd dáár was wanneer enige een van ons jou nodig gehad het… Wat jouself tekort gedoen het ter wille van ons… Altyd dié een was wat moes heelmaak, gesond maak, regmaak. By wie elkeen van ons veilige beskerming en geborgenheid ervaar het. Ons belange wat áltyd voorrang geniet het. So dikwels ten koste van jouself.
Vergewe my, Mamsie-lief, vir my onbedagsame jeug. Vir al die tye dat ék die oorsaak was van jóú seer. Vergewe my dat ek so ongeduldig geraak het toe jy siek was – selfs al wás dit net één keer – want jy want jý was nooit te moeg vir my nie. Vergewe my dat ek inbreuk gemaak het op jou gedagtes toe jy reeds vergesigte gesien het van Ewige Lewe. Vergewe my dat ek jou probeer terugruk het van die pad wat jy reeds saam met God begin stap het, deur onsinnige beloftes van terugkeer te eis. Vergewe my dat ek jou so desperaat wou dwing om gesond te word, terwyl Jesus alreeds jou hand gevat het.
Ek staan skuldig, Mamsie-lief, voor jou én voor God. Ek was só bang vir die lewe sonder jou dat ek nie ‘n oomblik daaraan gedink het wat jý wou hê nie. Só bevrees om jou te verloor dat ek nie my vertroue volkome in God gestel het nie, al weet ek dat jy nêrens anders veiliger kán wees as juis by Hom nie.
My gebede was nie meer gesprekke met God nie, alles het net om jou gedraai. Pleidooie en smekinge dat Hy jou sal teruggee vir my… ‘n Powere, patetiese poging om die Maker van die Heelal te manipuleer vir my eie, selfsug? Want ek sou nog soveel meer vir jou wou doen. Nog soveel meer dinge saam met jou wou doen…
Sal gebede weer ‘n intieme sielsgesprek tussen my en my Heiland word sodat Hy alleen my Ligtoring en Rigtingwyser sal wees? Miskien is dit daarom dat Hy jou so vroeg kom haal het. Sodat dit nie God en ons sou wees nie, maar Hy alleen…? Ek het nog soveel vergifnis nodig van Hom…
Sal ek dán so waardig kan wees, my kosbare Mamma, soos jy was?
Om met my lippe woorde te praat wat jou vrystel om Huistoe te gaan, was die moelikste ding wat ek nog ooit moes doen. Sal my hart ooit kan afskeid neem van jóú, Sý liefdeslied aan ons?

En dis nou dat wonder: Het ek jou lief genoeg gehad terwyl jy hier was? Het ek jou nóú lief genoeg?
En wat dink God van my…?

EK, BOER

EK, BOER

Onder die Soewereine Gesag
van die Allerhoogste, Almagtige God
vind ek, Boer, my beslag.
Hy rig my lewe volgens Sy Gebod.
My eerste trou lê by Jesus Christus:
om gehoorsaam te wees aan Hom alleen
om eendag in te gaan in Sy Goddelike Rus
om Hom as ontsaglik heilig te bejeën.

As Naamdraer streef ek daarna om
~ gedrewe deur algehele toewyding,
gedra in ondeurgrondelike Genade deur Hom ~
Goddelike Liefde en Vrede te bring;
om na die beste van my nietige menslike vermoë
Sy Waarheid oor te beeld ‘n stukkende wêreld in ~
‘n landmyntrap-leefplek met witblinde oë…

As Beelddraer streef ek daarna om
onbesproke van karakter, onberispelik in gedrag
burger te wees van Sy Koninkryk wat kom;
om vir die Leeu van Juda hier as bywoner te wag
om lae morele waardes afgedwing as landswet
deur die huidige bewind as verwerplik te ag…
om onwrikbaar te glo in Wie ek wéét my hét.

As Vaandeldraer vir die Lam verfoei ek
bedrog, leuens, diefstal, geweld in woord of daad.
Chaos is my land se naam, my volk se dood ‘n bloeiplek;
misbruik van God se Naam die hoogste vorm van verraad.
Ek bid in my feilbaarheid as mens
vir méér as sewentig maal sewe;
vergewensgesindheid sonder grens
en sorg en deernis vir alles wat lewe
Vir elke hartklop en asemteug – ‘n kentering
vir elke siel net ‘n kléin opening
waardeur my God se Gees kan dring.

En elkeen wat Hom liefhet
en elkeen wat Hom dien
elkeen wat op Sy Spoor let
vir jóú sal ek as broer kan sien

Vir jou sal ek vra

wat van onder skop
en trap en val
óp sukkelstaan
Kén jy God?
…jou volk …
Ken jy die Táál…?

KLEIN GEBED (Tussen God en Ons)

KLEIN GEBED

‘Skuus tog, Heer, vir hierdie onbeholpe bid
wat skeef en krom my honger hart uitskuifel;
dié soebat was só goed beplan, maar nou kom dit
net kopsku voor my dom praatdrumpel weifel…

U weet ek het nie eintlik baie woorde nie
~ ek stotter, stamel, struikel in gebed ~
my lofsang haal ook nie al die akkoorde nie
~ die flenters aan U Voet is al wat ek weet ek het ~

Ek gee vir U my saamgeflansde toiingsinne
asseblief, Jesus, sal U dit vir my Boontoe vat
~ dis als wat stukkend aan’t rondrol is hierbinne ~
en sal U, gróót seblief, U Merkers vir my los oppad…?

Wyl U in Heerlikheid opvaar na U Koninkryk
sal U tyd maak en deur my mank gedagtes gaan;
krake heelmaak; my kreukelgebedjie gladder stryk
vir wanneer ek weer krinkelgees voor U kom staan..?

Kyk na my, Heer, met sagte oë; ken my met U genà
Laat slegs U Vergifnis en Vrede wyd in my bly lê
al sal U my soveel keer wéér moet optel en dra…
…en Jesus, hiérdie keer…
sal U vir my laat “Amen” sê…?

BEGIN (Tussen God en ons)

In die begin was die Woord,
en die Woord was by God,
en die Woord was God.

God het af na die aarde gekyk,
en gesien dit was woes en leeg; beweegloos; stil…
God het besluit die donker oor diep waters moes wyk,
toe het Hy gespreek, en volgens Sy Wil,
sonder teëspraak of verset – het alles geskied.
Dit wás so; en alles was goed wat Hy sou gebied.
Uit niks het Hy alles laat word.
Orde het Hy uit die chaos gehaal,
vormloosheid in fatsoene gestort;
geskep, bymekaargesit en skeiding bepaal.
Wat eenkant hoort, het Hy eenkant ingeperk
en alles saam en op hul eie laat werk.
God het lig gemaak en die duisternis eenkant gekry;
onder en bo die gewelf waters van waters geskei;
die onderkantwaters versamel as riviere en seë;
grond het Hy sigbaar gemaak en dit aarde genoem.
~ En Hy het gesien dit was goed wat Hy doen ~
Op Sy bevel is son sterre en maan
elk ingetaak in hul eie baan
om die lig van elke heldere dag
te skei van die diep en duister nag;
om te dui dat alle tye van toe af aan
uit dae, seisoene en jare sal bestaan.
Laat lewende wesens in oseane wemel
~ ‘n kleurryke loflied aan hul Skepper en Heer!
Laat voëls se vlug oor die aarde onder die Hemel
‘n jubelsang wees: Aan God al die eer!
Op die sesde dag skep Hy diere vir droë grond
met enkel ‘n bevel uit Sy Heilige Mond.
God het hulle ryklik geseën om vrugbaar te wees
vir die glorie en glans van Sy Heilige Gees:
om baie te word volgens hul eie soort en aard
en ‘n woonplek is sorgsaam vir hulle uitgekaart.

God het moeg, maar tevrede, na Sy Handewerk gekyk:
Dít dan was hoe die Eden sou lyk.
Hy’t gesien dit was baie, baie goed – ‘n grootse taak.
Maar toe sê God: “Kom, laat Ons mense maak…”

HABAKUK

Sing! my siel, tot eer van die Here
al ruk daar gate uit jou hart
Sing tot eer van die Here
al buig jy krom in smart
Sing tot eer van die Here
al val jou wêreld om
Sing tot eer van die Here
Verhéérlik Hom!
Sing tot eer van die Here
as alles flenters skeur
Sing tot eer van die Here
as angs verby jou trane beur
as Hy als wat jy het vir Hom vat
jy wat oorbly toegooi in ‘n gat
Sing tot eer van die Here
Verheerlik Hom…
Sing, my siel, tot eer van jou Here
as die dag van verskrikking kom!

Here! Koning!
Laat U Koninkryk
ook binne hierdie helder pyn kom!