Ansie se Blog

http://kosmos-heartbeat.blogspot.com/

Ansie skryf:

Ek het maar beperkte kennis van selfpublikasie, maar sal baie graag ander se mening wil hoor. My eie ondervinding het my geleer dat dit ‘n bitter harde alleen pad is.

Genade

“Tanna, ons moet praat.”

Die woorde val soos klippe op Arista se hart. Magdelie se gunstelingfrase wanneer moeilikheid wit in die blom staan.

“Wat is fout,” kry sy tussen stywe lippe uit.

“Niks, my Tanna. Hoekom?” Magdelie klink heel kalm. Nie so passief gespanne soos destyds toe sy ‘n tiener was nie.

“Praat met my,” sê Arista

“Ons praat vanaand, chiau,” sê sy voor sy aflui.

Arista het geweet dit sal haar inhaal. Eendag gaan daardie stukkende verdwaalde dogtertjie haar verskyning maak. Die bang seerkry ogies gaan terugkyk uit die spieël uit. Sy draai van die spieël afweg, storm blindelings by die agterdeur uit en vee trane met die agterkant van haar hand af. Terwyl die trane al vinniger loop, kies sy koers na die kliprandjie waar sy al haar seer gaan bêre.

“Ma, ek sukkel. Ek kom nie reg nie!” Sy skree dit uit. Nege maande, dit is hoe lank Ma dood is. Van sperm tot fetus totdat ‘n baba gebore kan word. So lank sukkel sy nou al. Bloei sy by die gat waar haar hart seergekry het.

Moes Ma dan nou al doodgaan? Sy was tog nie so oud nie? Sy sak stadig op ‘n warm gebakte klip neer en begin snikkend huil. Die seerste snikke sedert haar boet se dood.

Toe het sy ook so geween. Hoe verstaan enige mens selfmoord? Hoe verstaan jy dat hy geglo het hy was so alleen op aarde? Dat nie een van die wat hom lief gehad het hom kon help? Was hy so alleen in sy binneste?.

Nou is sy sommer weer by die seer van haar standerd ses jaar ook.

“Onthou Ma, my naaldwerk juffrou? Die kort enetjie in standerd ses? Sy het my sy nogal aan Ouma laat dink.” ‘n Nuwe stortvloed van trane.”Totdat sy haar mond oopgemaak het. Dit was gewis my eerste kennismaking met snydende sarkasme”.

Snikke en luide neusblaas. “En my slegte naaldwerkpunte, Ma. Dit was daai simpel teddiebeer wat weggeraak met die trek. Ek het geweet daar was nie geld vir ander materiaal en simpel opstopsels nie. Sy het my doodeenvoudig ‘n ronde nul gegee.”

Sy staan op van die klip af. Op vyftig sit ‘n klip in die veld nie meer so lekker nie. Sy stap ‘n entjie. Praat weer met haar ma.

“Dit was ‘n bitter slegte jaar, Ma. Onthou Ma hoe ons moes aanpas as plaaskinders op die dorp. Ek wil nie daaraan dink. Ek het gesweer ek is klaar met daardie gevoel.”

Sy gaan sit weer, die keer op ‘n skewe Kareestomp.

“Ek wou nooit weer soos die patrys tussen ‘n klomp papegaaie  voel nie.

En dit is presies hoe sy gevoel het toe hulle ontdek het sy kan nie kinders hê nie. Elke keer wanneer almal gekoer het oor hulle swangerskappe en babas, was sy weer die vaal patrysie.

Sy sak vooroor en rus haar kop op haar knieë. So sit sy en huil tot daar later net droë snikke by haar rou keel uitkom. Doodmoeg bly sy net so sit. Hoe nou vorentoe?

Sy moet vorentoe ter wille van Magdelie. Haar grootmaakkind. Die rebel de lux.

lees verder:

via A New Day.

Advertisements