Nuus – Gee ‘n boek/ eBoek vir Kersfees

Hallo, almal, dis Rachelle du Bois.

Julle begin seker al dink aan Kersfees en die geskarrel vir die regte geskenk vir elkeen van jul geliefdes. Ek het gedink daaraan dat ‘n boek altyd ‘n waardevolle geskenk is vir ‘n mens vol leeslus, en veral ons vroue wat so graag ‘n uurtjie afknyp om te lees as manlief rugby kyk, of as jy jouself onverwags alleen tuis bevind op ‘n Saterdag of Sondag.

Daarom maak ek ‘n paar voorstelle van gawe boeke vir Kersfees. Ek heg ‘n bladsy hierby aan waarop die boeke se name verskyn saam met’n kort beskrywing van elke boek. Klik op enige van die skakels vir meer inligting.Gee ‘n e-boek as geskenk vir daardie vriendin of vriend ja, mans lees ook romanse! wat vir jou baie beteken. Dit kan direk op haar/sy rekenaar of elektroniese leser iPad ens afgelaai word.

Jy is ook welkom om my Afrikaanse webblad by http://rachelledubois.com te besoek vir lekkerlees blogs en inspirasie.

Kom gesels saam op my webblad. Sluit aan by hierdie gemeenskap van lesers en veral van Afrikaans leesgieriges.Rachelle du Bois

via Nuus – Gee ‘n boek/ eBoek vir Kersfees.

Advertisements

Geen ligte boosheid dié, maar tog vermaaklik | Rapport

Misdaad vier hoogty in die Afrikaanse letterkunde.

Plaaslike misdaadskrywers hoef nie terug te staan vir hul oorsese eweknieë nie.

Benewens die groot name is daar ‘n hele paar spanningskrywers wat stil-stil besig is om vir hulle ’n nis in die nasionale bewussyn oop te skryf.

Peet Venter is so ’n outeur.

Ons het die buitestanderspeurder Thys Krige, sag op die oog en met hardegat, beskadigde machismo in Dieper as die bloed leer ken en weer in Ou bloed beleef. Bloed verteenwoordig in Venter se onthoubare boeke boosheid en geweld, maar ook verhoudings, verbintenis en familie.

In hierdie derde aflewering het Krige die polisiediens verlaat en hang hy effe planloos rond, tot groot irritasie van sy huishulp. Hy is egter topfiks en skatryk danksy sy moeilike pa se nalatenskap. Hy het ’n amper-verhouding met die beeldskone, gekweste Robyn Arendse, ‘n joernalis. Dis gekompliseerd, want hulle skram elk om hul eie redes weg van intimiteit.

Hy voorsien haar van leidrade en bronne vir haar navorsing vir ’n reeks artikels oor kinderhandel. So beland sy in die visier van bose operateurs. ’n Nuwe saak val ongevraag in Krige se skoot: Henk Human is soos Robyn ’n vryskutjoernalis. Op die spoor van ’n storie sien hy te veel en word in Zimbabwe gevange geneem en later, na heelwat druk van sy broer, vrygelaat.

Hy was ook eens onweerstaanbaar aantreklik soos Krige, maar is nou ’n gebroke dop van ’n man, ’n senuwrak wat snags gillend wakker word en weier om te praat oor wat hy gesien het. Krige moet agter die kap van die byl kom en vertrek op ’n geheime sending na Zimbabwe, waar hy self met onmenslike boosheid en hebsug skouers skuur. Meer wil ’n mens nie verklap nie.

via Geen ligte boosheid dié, maar tog vermaaklik | Rapport.